|
WORD WAKKER!
Dit was ‘n heimlike lentedag met heuninggoue ligstrale wat deur karige
vlieswolkies in die pastelblou lug wink en speel. ‘n Flou briesie
vroetel skamerig deur velde van rypgeel koring en net die verre roep van
‘n pou beklemtoon die middagstilte. Op ‘n grasbank is ‘n oop kombers met
‘n man en ‘n vrou wat daarop uitgestrek lê. Sy is besig om te dut terwyl
hy na haar staar. Hy is bruingebrand, hemploos met ‘n songebleikte
denimbroek. Sy gesig is hard en geëts, maar sy oë verklap teerheid as hy
kyk na die vrou langs hom. Sy is ‘n visie; ‘n onmoontlike skepping van
lig en donker; die rare beeld waarna menige ‘n kunstenaar hunker vir
inspirasie. Hy lig sy hand huiwerig om ‘n verlore haar van haar skone
voorkop weg te vee, en besluit dan daarteen, en besluit dat dit deel is
van die perfeksie.
Hy voel dat sy moet wakker word, maar kan homself nie wegskeur van die
oomblik nie. Word wakker – prewel hy, sonder dat hy seker is of hy dit
werklik wil hê. Soos hy sy hand besluitloos oor sy dag-oue stoppelbaard
vee, voel hy vasgevang in iets groters as wat sy eenvoudige menslike
brein kan verstaan. Die oomblik is ‘n ewigheid wat onherwinbaar
vernietig kan word, soos ‘n golf wat oor sandkunswerk spoel.
Die pou het nou stil geword en die enigste klank is die ritseling van
die briesie deur die koringblare. Die briesie ontwikkel geleidelik in ‘n
stywe windjie en op die horison sien hy donker wolke saampak. Hy
fluister saam met die windjie in ‘n vreemde taal: ‘Je pense a toi’ (ek
dink aan jou) en begin dan ‘n wysie te neurie van ‘n Oos-Afrika, ‘n
wysie wat hul albei hul eie gemaak het op ‘n warm somersaand langs die
see, lank gelede. Sy sluimer dieper in met die deuntjie en glimlag half.
Terwyl hy neurie staar hy onwillekeurig na die horison wat al hoe
donkerder word. ‘n Onrustigheid het by hom posgevat. Word wakker, sê ‘n
stem van iewers. Hy kyk effens onseker na sy slapende vrou, maar hou aan
met die deuntjie. Hy besef uiteindelik dat sy moet slaap, en dat dit reg
is. Niks moet haar drome versteur nie. Hy weet nie vir hoe lank hy nog
hier by haar sy sal kan wees nie, maar solank hy is, sal hy dit probeer
perfek maak. Word wakker! Die stem in sy kop is meer opdringerig, maar
hy ignoreer dit. Die lug is baie donkerder en ‘n wete vat pos dat dit
byna tyd is. Hy kyk hartsogtelik na sy slapende liefling en wens dat hy
net een keer weer haar oë kon sien.
Hy weet dat iewers, tussen verwronge metaal en sirenes, daar ‘n paartjie
lê. Hy weet dat hy nie daarna wil terugkeer nie, omdat sy nooit sal kan
nie. So nou wag hy maar. Vir wat, sal niemand hom kan sê nie.
© Etienne A. Marais – 2 Oktober 2006 |