|
WAAR WAS JY?
‘Waar was jy?,’ vra die man met die rooi hoed en die teelepel wat by sy
gatsak uitsteek.
‘Wie wil weet en waarom?,’ vra sy tingerig opstandig.
‘Ek is die man met die rooi hoed. Hulle moes jou van my gewaarsku het,’
sê hy en waai ‘n nat sakdoek vermakerig voor haar gesig verby.
Sy neem ‘n treetjie terug – effens uit die veld geslaan en heelwat
afgesit.
‘Meneer, hoekom moet ek van jou weet? Ek ken jou klaarblyklik nie!’ Haar
hand beweeg huiwerig na haar hals en trek toe wat nie ontbloot moet wees
nie. Veral nie in sulke situasies nie.
‘Ek wil jou ook net in kennis stel dat ek alreeds laat vir ‘n
vergadering is en dat ek nie baie tyd het nie,’ voeg sy by.
‘Mevrou…,’ begin hy.
‘Mejuffrou…,’ korrigeer sy.
‘Verskoon my uitbundigheid,’ gaan hy voort, ‘maar ek is die man met die
rooi hoed...’
Hy haal die teelepel uit sy sak en vou die nat sakdoek noukeurig daarom.
‘…en ek vra jou nou: waar was jy?’
Sy weet nie wat om te sê of te doen nie, en die man se afwagtende oë
laat haar naak voel.
‘Meneer…,’ begin sy.
‘Doktor,’ korrigeer hy.
‘Ag verskoon tog…dokter,’
‘Doktor,’ help hy haar tevrede reg.
‘Jammer doktor, maar jy het seker die verkeerde persoon beet. Eintlik…ek
is doodseker jy het die verkeerde persoon beet.’
Die man kyk geskok na haar en begin senuagtig speel met sy groen das met
die vrolike geel hasies op.
‘Mevrou, ek…ek moet om verskoning…,’ mompel hy dan, voordat hy vinnig
omdraai en met ‘n skewe drafstap by die lang, glansende wit gang af
wegvlug. Sy voel skielik sleg en probeer agter hom aanroep ‘Dis maar net
omdat ek die president moet ontmoet. Ek’s jammer as ek ongeduldig
voorkom!’
Maar die man met die rooi hoed was al lankal buite hoorafstand.
Twee persone in wit jasse en met intelligente uitdrukkings op hulle
gesigte beskou die petalje op ‘n afstand. Die een begin dan naarstiglik
deur ‘n hoop notas blaai. Die ander draai na hom en sê snediglik: ‘Geagte
kollega, dit blyk dat jou eksperiment ‘n wanbegrip gebaseer op ‘n
hallusinasie is. Daar is duidelik geen manier om ‘n megalomaniese
pasiënt en ‘n kleurblind skitsofreen teenoor mekaar af te speel vir ‘n
wesentlike positiewe resultaat nie. Ek is bevrees dat die beheerraad
hiervan sal hoor.’
Die spreker draai met minagting om, skuif die goue kroon op sy kop
windmakerig skeef en loop die glansende gang af, terwyl sy gekastyde
kollega ongelukkig onder sy wit, gepoeierde pruik krap en wonder: ‘Waar
is ek?’ © Etienne A. Marais – 2006 |