|
VAN UITSTEL KOM AFSTEL
Die skrywer sit botstil met 'n besluitlose wysvinger wat bo die
sleutelbord huiwer. Sy oë staar na die leë dokument op die skerm, sonder
om regtig te fokus. Op daardie oomblik vind 'n geveg plaas in sy
binneste, 'n bloedige geveg (in die abstrakte sin). Om die vinger te
laat daal na die sleutelbord sal hom onherroeplik begewe aan gekende
duiwels. Om dit nie te doen nie, sal hom verdoem tot die ewige
pestilensie van self-verwyt. Sy oë word glaserig van die gille van
duisende demone wat op die slagveld van sy brein sterwe, net om weer en
weer op te staan en verder te veg. Daar blyk geen einde aan hul bloedlus
te wees nie. Soos die een kant lyk of hul die opperhand kry, sal die
ander lot met 'n knyptang-beweging kom wat die slagveld weer ewenaar.
Stadig lig die hand van bo die sleutelbord af en beweeg soekend na regs,
na die Groot Leermeester Van Verskeie Vorme. Soos die hand sluit om die
halfbottel "Southern Comfort" en na die mond bring, is daar 'n breuk in
die oorlogsvoering, en 'n vrome stilte daal terwyl Die Antwoord in die
keel afvloei. Die demone staar afwagtend na die oer-oue ritueel wat voor
hulle oë afspeel.
Soos die Groot Leermeester Van Baie Baie Vorme uiteindelik daal na sy
regmatige plek aan die regterkant, is daar 'n voelbare opwinding in die
lug. Die Antwoord. Gaan die Orakel nou praat? Dit was vele dae vandat
die laaste wysheid van sy alwetende lippe gekom het. Die stilte hang, en
hang. Geen trompetgeskal, niks. Net stilte wat hang soos 'n doodsvonnis.
'Daar is geen hoop! Daar is geen hoop!', gil die demone dan, en met
verslae krete vlieg hulle weer aanmekaar, hul lang naels skeurend deur
onwêreldse vlees van besluitloosheid. Daar is nou vele meer van hulle;
hul nuwe broeders gelok na die situasie soos 'n uitverkoping. Die Groot
Leermeester Met Die Koue Blik beskou die vernietiging sonder om te
oordeel. Vir hom is dit om te ewe wie wen. Dit maak nie saak of hy na
vore tree in oorwinning of in verslaning nie - sy kennis bly onvatbaar.
Die giftige dampe van die Minister Van Ydele Hande hang dik in die lug
voordat die hand weer tas na Die Leermeester. Daar moet 'n antwoord wees!
Enigiets! Hierdie slagting is 'n suiwere sonde - 'n klap in die gesig
van alles wat goed en oorspronklik is. Dis vernietigend! Dis
anti-Picasso, anti-Da Vinci, anti-Steve Hofmeyr! (grappie) Miskien lê
Die Antwoord net dieper, wie weet...
Die hand reik uit, en soos meer van Die Antwoord in die dieptes verdwyn
spreek die Orakel uiteindelik, met 'n oorverdowende gejuig vanaf die
verminkte en uitasem demone. Maar soos orakels gewoonlik is, is die
oplossing verbloem in 'n raaisel:
'Is die probleem met die hand of met die brein? Is dit nie moontlik net
'n onwilligheid van die brein om die hand te vertrou nie?'
En met daardie wyse (en ietwat kriptiese) woorde strompel die demone
vanaf 'n bloedrooi slagveld; repe velle wat agterna sleep, terwyl 'n
onsekere hand naarstiglik weer vat-vat aan Die Leermeester. © Etienne A. Marais
– 12 Oktober 2005 |