|
OM TE TOWER
(in ses dele)
Deel Een
'n Netelige Probleem
Normaalweg sou Diktoshe (‘n middeljarige tokkelos1) die dalende en
doodbloeiende Zululand son gretiglik dopgehou het, met sy kort,
senigerige postuur styfgespan van ongeduld en afwagting op ‘n aand se
amok en gille. Skemer was die eerste tentatiewe uitnodiging na so ‘n
aand van donker plesiere – soos net ‘n tokkelos van vernaam kan ervaar.
Maar Diktoshe was geïrriteerd, en brommend so. Sy alleenstaande,
bloedbelope oog kyk ongelukkig na die son wat liefde maak met die
horison terwyl sy eenvoudige, maar slinkse breinsisteem wonder oor die
penarie wat hom nou beneuk. Vir hom was daar ‘n duidelike verskil tussen
wat vir hom bestem was - en wat vanaand vir hom in die donkerte wag.
Hy kners senuagtig op sy lang slagtande.
Wat is die antwoord? ‘n Tokkelos is nie gebou vir probleemoplossing nie.
‘n Tokkelos is van oertyd gebou net vir een ding: om wanorde en vrees te
saai; om die arrogante mensdom so dan-en-wan te herinner dat hy nie die
alleenheerser van sy omgewing is nie.
Nou sit hy (‘n suksesvolle tokkelos van omtrent 320 jaar) onder die juk
van ‘n ander wese se wense. Met ‘n trillende skreeu skop Diktoshe na ‘n
kluit wat tussen die lang gras lê en skud sy bos liggaamshare
iesiegrimmiglik. ‘n Paar verbaasde vlooie vind hulself skielik sonder
huis of heenkoms.
Deel Twee
Die Inyana
Die storie is as volg – Diktoshe was besig om ‘n veel-benodigde snorkie
langs die rivier te vang toe ‘n hawelose Inyana2 sy onsigbaarheidsklippie
vasgelê het. Gewoonlik sou Diktoshe die kosbare klippie in sy mond gehou
het, sonder enige gevaar dat iemand tussen sy vlymskerp tande sou voel
daarvoor. Hierdie betrokke dag egter, het Diktoshe ‘n bietjie naar
gevoel (seker ook een van die Inyana se skelm kunsies) en die klippie
langs hom geplaas, om die naargeid weg te slaap. Dit is toe dat hierdie
immorele Inyana vir Diktoshe (toe hy wakkerword) met ‘n horingoud, maar
effektiewe towerkunsie gebind het aan sy eie heenkoms. Hy het ook die
klippie gyselaar geneem.
Die Inyana het afgryslik gelyk, op sy eie manier. Hy was eens op 'n tyd
seker 'n aantreklike man, maar nou was hy lelik geskend, met groot happe
uit sy liggaam. Enige gewone persoon sou seer sekerlik beswyk het van
die wonde, maar die Inyana was ‘n meester van towerkuns en het gepraat
met die ou geeste.
Hoe Diktoshe ookal sy pote gestamp het en sy afgryslike tande geklap het,
kon hy die Inyana nie kry om sy klippie terug te gee nie. Nog boonop het
die Inyana die vreemde en onplesierige gewoonte gehad om in gekoppelde
rym te praat (hoe verwaand kan iemand wees?) en het Diktoshe se bevele
as volg uiteengesit:
Met stomp hout en krom kierie
het ek geval voor ‘n lelike Hai-Uri.3
Helaas! My manlike skoonheid is finaal verlore
maar tog is daar iets meer vir my beskore.
As die kwaai broeder van die donkermaan
is jy die berugte skrik van die aand.
So nou vat ek jou, my tandvolle vriend
as die kneg wat my donker doelwitte sal dien.
Diktoshe het min daarvan verstaan en basies niks gevoel vir sy martelaar
se litirêre vermoeëns nie - al wat sy verslane brein kon uitpluis was
dat hy, ‘n 320-jarige tokkelos, in skaamte tot slawerny verdoem was. Die
heel ergste van die situasie was dat die Inyana hom wou gebruik om
romantiese! ambisies te bevredig. Al wat Diktoshe van romanse verstaan
het, was dat dit onlogiese en ongesonde drange tussen twee wesens opwek.
Hy het al vele bangmaakstories gehoor van die siektes wat DIT veroorsaak.
Nou is hy wat Diktoshe die tokkelos is, gebonde om hierdie onheilige
liefdespel aan te hits.
‘n Tikkie selfbejammering kruip binne sy hart in soos ‘n geslane hond en
voor hy homself kon kry prewel hy filosofies “tho ith my lot” (tokkelosse
lispel) en vou diepdenkend sy lang, vuil baard om een geniepsige klou.
Deel Drie
Heimlike Thandi
Thandi was sy genaamd en sy was baie mooi, net soos haar naam. Met ‘n
kalbas op haar kop, loop sy met swaaiende heupe verby die knetterende
aandvure en glimlag gemoedelik na die jong mans wat haar naam uitroep.
Bewus van haar eie aantreklikheid, is sy tog teruggetrokke. ‘n Tikkie
treurigheid is versteek in haar sagte bruin oë, ‘n geheimpie wat haar
verhoed om by die jong mans te gaan sit.
Een van die jong mans breek weg van die vuur en kom skamerig nader.
‘Thandi, …kan ek jou help dra?’ vra hy ongemaklik.
Sy kyk vriendelik, maar effens bejammerend na die goedgeboude man voor
haar. ‘Nee, Siphiwe. Maar dankie.’ Sy draai om en begin om weg te loop.
‘As jy ooit … um … my hulp nodig het dan is ek daar. E-ek bedoel jy kan
altyd vir my vra,’ mompel hy verbrouereerd agterna.
‘Dankie Siphiwe,’ sê sy en flits ‘n wit glimlag.
Party van die mans om die vuur begin hom koggel wanneer hy verleë
terugkeer na sy makkers.
Thandi sug diep as sy die kalbas by die hut neersit en dink aan ‘n
verlore liefde, ‘n man so baie soos Siphiwe. Sy dink aan die lekker tye,
maar geleidelik ook aan die donker tye.
Sy het uitgevind dat haar verlore sielsgenoot besig was om te
eksperimenteer met die towerkunsies van lang vergete geeste. Hy het
geleidelik met ‘n ver en koue blik na haar gestaar, en het haar
bekommerde vrae nie beantwoord nie. Hy het wel vir haar genoem dat die
geeste met hom praat. Eendag het hy net weggestap deur die lang gras, en
nooit weer teruggekom nie. Sy het met 'n gebroke hart vir hom gewag,
maar het uiteindelik gehoop dat hy dood was. Dit was makliker om te
aanvaar as dat hy haar eenvoudig weggegooi het.
So jong aantreklike mans is net daar vir teleurstelling en pyn, het sy
besluit. Haar sagte hart sou nie weer sulke lyding kon oorleef het nie.
Maar tog…. Sy dink weer aan die skaam Siphiwe en klim op haar katelbed;
verhewe op bakstene4. En sy glimlag.
Deel Vier
Husse met Lang Tande
Diktoshe kyk misnoegd na die perfek-gevormde voet wat van die hoë
katelbed afhang. Hoe graag wil hy nie ‘n hap daarvan vat nie. Dom mense!
Hulle doen al die moeite om bakstene onder die bedpote te pak en dan
laat hulle liggaamsdele afdrapeer op ‘n warm somersaand. Diktoshe sluk
die honger speeksel terug wat skielik in sy mond opgebou het. Hy mag nie!
Hy mag nie! Hy gee homself ‘n seer klap teen die kop met een klou. Die
Inyana het uitdruklik gesê dat hy moet streel, nie byt nie. Huiwerend
steek hy ‘n klou uit en raak aan die voet. Dis warm, byna soos - ‘n
wegneemete. Hy gee homself nog ‘n klap teen die kop.
Hy steek weer sy klou uit en begin krapperig die voet te streel. Thandi
sug gemoedlik in haar diepe slaap, ‘n slaap van monsters en helde.
Uiteindelik registreer iets in haar brein en sy kom slaperig orent. Sy
kyk eers verdwaas na die leë kamer totdat haar oë afdwaal na die harige
dwerg aan haar voetenent, wat nou effens verbrouereerd haar voet vashou.
Skok en die vrees slaan Thandi se wind uit. Sy spring ‘n oomblik later
gillend bo-op die bed en staan bibberend net buite die bereik van die
tokkelos. Diktoshe probeer naarstiglik die rympie onthou wat die Inyana
vir hom oor en oor laat sê het, maar sy primitiewe brein word geleidelik
oorheers deur ‘n diep passie om te byt. Hy begin aan die komberse trek
sodat sy weer binne bereik kan kom, sodat hy weer kan streel, of miskien
net ‘n vinnige happie vat. Thandi se gille wek instink en opwinding in
hom aan, en sy tande begin gretiglik klap in afwagting. Sy verloor byna
haar balans wanneer Diktoshe die komberse ‘n harde pluk gee - en byna
het hy haar.
Sy oog nou skitterblink met lustigheid, gryp hy na haar. Gryp! Gryp!
Dan bars die deur oop en ‘n jong, sterkgeboude man staan daar met
afgryse in sy oë. Diktoshe swaai om en grom onplesierig vir die
indringer. Dit is totdat ‘n knuppel hom pynlik teen die kant van die kop
tref. Instinktiewelik koes hy vir die tweede hou, duik tussen die
indringer se bene deur en skarrel na lang gras en oop spasies.
Deel Vyf
Siphiwe en Thandi
Siphiwe kyk verstard na die harige gedrog wat binne ‘n oogwenk tussen
die lang gras verdwyn. Sy gespierde lyf slaan uit met ongekende koue
sweet. ‘Thandi…,’ is al wat uit sy krytdroog mond kan kom. Sy kom staan
agter hom en sit haar hand bewerig op sy gebalde vuis wat die knuppel
nog omhoog hou. ‘Siphiwe…’, fluister sy. Saam staar hulle na die plek
waar die gedierte verdwyn het; waar die lang gras stadig in die
aandbriesie wuif.
Sy omhels hom uiteindlik van agter, onseker. Hy voel haar puntige borste
teen sy rug en word onweerstaanlik bewus van die ryp koringgeur wat van
haar sagte liggaam af kom. Hy draai om en raak met ‘n skamerige hand aan
haar gladde vel. Haar pragtige bruin oë kyk na hom met ‘n oeroue
vraagteken. ‘Thandi….,’ prewel hy weereens. Sy bring haar lippe na syne,
en ewen eens is die aand opwindend, skrikwekkend en onvoorspelbaar alles
op eens.
Deel Ses
Om Onsigbaar te Wees
Die Inyana sit rustig by die maanlig-gewaste rivieroewer en kou ‘n
suikerriet toe Diktoshe grommend deur die klei op hom afstorm. Beseffend
dat die tokkelos nog steeds ‘n wilde wese is, hoeookal betower, uiter
die Inyana ‘n vinnige beherende towerversie:
Ongekunstelde modder
Ongetemde broeder
Die haat wat jy delf
vat dit op jouself.
‘n Onsigbare hand tel Diktoshe op en gooi hom op sy agterstewe in taai,
onwelriekende riviermodder. Met 'n verwoeste kreet en klappende tande
spring hy op net om weer geweldadiglik op dieselfde plek te beland. Die
Inyana skud sy kop op ‘n hoogs meerderwarige manier en rym prekerig
verder.
Weet, voordat jy die oorwinning vier:
jy is nog steeds maar net ‘n dom nagdier,
geworpen van ‘n brutale werpsel.
Jy is totaal myne, jou eenvoudige skepsel!
Om die punt te bewys haal die Inyana ‘n gladde klippie uit sy kantsak en
tol dit vermakerig tussen duim en wysvinger. Die tokkelos skud kwaai die
modder uit sy lang, stekerige hare.
‘Jou plan ith dom,’ gil hy dan skril met ‘n kenmerkende lispel.
‘Geen vrou thal met my praat nie, nog minder luithter na ‘n thtorie van
‘n patetiethe Inyana met hartthiekte nie. Ek het byna my kop oopgthlaan
gehad vanaand ath gevolg van jou!’
Die Inyana kyk half verbaas en effens seergemaak na die tokkelos.
My plan is nie dom,
sy SAL na my kom.
Maar jy moet ‘n monster wees -
haar passie sal kom uit vrees.
Tot en met ek my oë lê op Thandi,
sê maar totsiens vir jou ou klippie.
‘Tho ek moet ‘n monthter wees? Maar jy het vir my vroeër duidelik gethê
dat ek nie moet…’
Diktoshe maak nie die sin klaar nie en gooi sy kloue in die lug uit
frustrasie. Die Inyana se verwronge logika is te veel vir sy
tokkelos-brein. Hy trek ontroosbaar aan sy baard en staar treurig na die
volmaan wat hoog in die lug hang. Dan gewaar hy die vreemdste verskynsel.
Al-springende oor die bosse kom ‘n aardige gedierte wat selfs vir ‘n
geharde veteraan soos Diktoshe onstel. Een linkerarm, een linkerbeen,
een linkeroog – alles is daar net een van. En van al die kwyl wat uit
die ding se half-bek waai lyk dit asof dit ‘n taamlike aptyt aan boord
het. Wanneer die Inyana omdraai om te sien waarna Diktoshe so stip staar,
word sy geskende gesig wasbleek en hy begin agteruit te steier.
Diktoshe! Goeie bliksem, dis die Hai-Uri!
Hy’s ‘n kannibaal.
Eintlik - hy sal enigiets eet.
Ek beveel jou om hom aan te val!!
Met ‘n sekere tevredenheid let Diktoshe op dat die Inyana ophou rym het.
‘Meethter, ek thal doen wat jy vra, maar hoe kan ek hom verthlaan
thonder my grootthte wapen?’ vra hy slinks.
Die Inyana antwoord nie eers nie, hy gooi net ‘n gladde klippie na
Diktoshe se kant toe terwyl sy oë vasgenael op die vinnig-naderende
gedaante bly. Gretiglik glip Diktoshe die klippie binne sy mond en word
onsigbaar.
Vat hom, Diktoshe!
Jy word my vriend vir ewig…
Diktoshe kyk onsigbaar smalend na die vreesbevange Inyana.
‘Tokkelothe het nie vriende nie,’ lieg hy.
En met daardie woorde verlaat Diktoshe die verdoemde Inyana en drafstap
na die ou miersvretergat wat hy sy tuiste noem. Soos hy inkruip langs
die sissende likkewaan5 wat die gat met hom deel, voel hy ‘n eienaardige
begeerte om die reptiel te soen. Maar nou ja, tokkelosse doen nie sulke
dinge nie en die sensasie was tot sy verligting redelik kortstondig. Hy
het wel styf teen die likkewaan gaan lê en met die klippie veilig in sy
mond, sy enkele oog tevrede gesluit. En daardie aand het Diktoshe die
tokkelos gedroom soos nog nooit tevore nie, altans nie vir die afgelope
200 jaar nie.
Nie eers ‘n verbygaande skellende heks op ‘n bobbejaan se rug, kon sy
soet slaap versteur nie.
© Etienne A. Marais – 4 Julie 2005
|
Volkslegendes |
|
1.Tokkelos |
'n Tokkelos word gesien as 'n harige,
kwaadwillige, kabouteragtige, magiese skepsel wat met
sangomas, of toordokters geassosieer word.
Ander name: Tikoloshe, Tokkeloshi |
|
2. Inyana |
'n
Zulu towenaar, in kontak met die itongo, of
voorvadergeeste. Hy leer sy towerspreuke (in gekoppelde rym) van
hulle. |
|
3. Hai-Uri |
'n
Khoikhoi monster wat oor bosse spring in plaas van om dit loop.
Hy het een been, een arm een sy en is half onsigbaar. Ten spyte
daarvan is hy verbasend vlink wanneer hy menslike prooi jag. |
|
4. verhewe op bakstene |
'n Ou
Zulu en Xhosa teenvoeter om te verhoed dat die dwergagtige
tokkelos 'n slagoffer in sy slaap kan bykom. |
|
5. likkewaan |
Tradisioneel die tokkelos se beste vriend. Die aardige gewoonte
van die likkewaan om pote te stamp langs rivierbanke, het gelei
tot die idee dat 'n onsigbare tokkelos besig is om met die
reptiel te dans. |
|