|
IN DIE SKARE VERDWYN
Hy het hard probeer om in te pas, om soos die maalkolk om hom half
doelloos te beweeg na die veraf geboutjie wat in die genadelose son bak.
Die klere wat aan hom gegee was het ongemaklik groot aan sy lyf gesit,
en sy tweedehandse skoene het gaperig aan die rooi stof gesluk. Vrees
maak hom geduldig; meer geduldig as wat hy ooit aan homself sou toeskryf.
Hy staan al vyf ure in die lyn, wat pynlik stadig na die wit gebou in
die verte beweeg. Geeneen praat nie en daar is ‘n algemene
teneergedruktheid wat in die lug hang.
Hy trek onwillekeurig sy verslonsde hoed verder af wanneer ‘n vrou met
hangtiete stip na hom begin staar. Hy loer bangerig na haar: die
littekens om haar lippe, die hardheid in haar oë. Sy snuif onplesierig
en kyk weldrae weg. Hy slaak ‘n stille sug van verligting terwyl hy ‘n
paar persone tussen hom en haar sit. Daar is geen haas nie, herinner hy
homself. Versigtig is die wagwoord. ‘n Brommer kom land in sy week-oue
baard en drink gulsiglik van die oasis sweet wat daarin opgebou het. Hy
voel hoe die vuilgeid van sy voorkoms stadig na binne sink. Wat is die
doel van alles? Waarom is hy hier? Hoe het dinge so verkeerd geloop? Die
vrae hardloop vlietend deur sy gemoed, sonder antwoord.
Dit is ‘n paar uur later voordat hy naby genoeg is om die geuniformde
figure te bespeur wat die lyn beheer. Hy kyk met angs na hulle
hardhandigheid, hulle ongenaakbare agterdog. Semi-outomatiese gewere
hang arrogant aan hul heupe, soos hulle een na die ander in die wit
gebou stoot. Sy keel voel ongelooflik droog en hy sluk pynlik. Hy is
amper daar…nog net ‘n rukkie. Hy probeer sy gedagtes te kalmeer deur te
kyk na ‘n miskruier wat sy onwelriekende prys trots langs die lyn
afbeweeg. Twee weke terug was hy ‘n miskruier, dink hy, en sy prys was
so welriekend. Net soos die miskruier, het hy blindelings voortgeploeter
met ‘n ongevonde sekerheid. Hy verstaan uiteindelik nou die nietigheid
van alles en die selfbeheptheid wat hom gekelder het. Hy besef dit nou
eers, wanneer sy heenkoms nie meer sy eie is nie, waar die toekoms buite
sy beheer is.
‘n Ouerige man word uit die lyn gepluk soos ‘n vrou gillend hom probeer
terugtrek. Harde woorde volg die klank van ‘n geweer wat oorgehaal word.
Die pleitende stem van die ou man hamer op sy ore. Hy weet wat gaan
gebeur. Eens op ‘n tyd het hy daardie man geken, weet hy met ‘n taamlike
sekerheid. ‘n Geweerskoot knal, eenkeer – tweekeer – driekeer. Hy sien
hoe die ou man verkrummel in ‘n onaangename bondel. Meer mense gil, maar
dit stop byna onmiddelik. Net die klaagliedere van die ou man se
wederhelf breek die stilte. Hy voel naar, maar sluk vinnig aan die
vloeiende angs wat by sy keel wil uitpeul. Wees kalm, probeer hy oor en
oor vir homself sê. Sy dokumente is in orde. Vervaardig deur die beste
van die beste. Daar is geen rede vir paniek nie.
Hy staan uiteindelik voor die oop deur. Die man wat dood uitdeel kyk hom
op en af. Hy gryp hom dan aan die skouer en stoot hom na die oop deur.
Soos hy strompelend in die kantoor inval, sien hy ‘n klerk by ‘n
lessenaar, gevleuel met twee gewapende soldate. Die klerk hou homself
besig met papiere vir ‘n paar minute, voor hy opkyk.
“Please remove your hat,” sê die klerk met ‘n verveelde stem.
Hy haal nederig sy hoed af en staar stip na die grond.
“Papers,” blaf die klerk.
Hy handig verkreukelde dokumente oor, angstiglik. Die klerk kyk na die
papiere en kyk dan na hom, ‘n paar keer. Die stilte verwurg hom en hy
voel hoe die sweet riviere teen sy rug afloop. Uiteindelik glimlag die
klerk en handig die papiere terug. Hy probeer om sy verligting te delf
soos hy gretiglik dit terugvat.
“So you are on your way to South Africa. It seems that your papers are
in order,” sê die klerk soos hy terugleun in sy stoel.
“Y-yes, sir,” mompel hy senuweeagtig terug.
Die klerk glimlag vriendelik na hom.
“Holiday, business?”
“Holiday, sir,” fluister hy nederig terug.
Dan uiter die klerk woorde wat sy siel verys.
“Why would you want to go on holiday, your Excellency? Why, while your
country burns?”
Hy steier terug, wetend dat alles verlore is. Die klerk klap woedend sy
hand op die tafel.
“Why, Mr. Mugabe?” © Etienne A. Marais –
11 Augustus 2005 |