|
DIE FINALE KOEBAAI
Dit is half vier op ‘n koue wintersoggend. Dekker staar slaperig na die
oop gordyne in sy kantoor. Iets lyk verkeerd. Hy kyk na die lessenaar by
die venster en let op dat dit ongewoon leeg is. Het hy nie onder andere
sy duur kamera daar gelos nie? Geleidelik raak hy bewus van ‘n mensreuk;
‘n reuk van ongewastheid gemeng met goedkoop bier. Dan kom ‘n ongenooide
hand voel-voel deur die venster. Dekker voel ‘n koue rilling soos sy
denkende brein verbete deur komberse van alfa-golwe veg. ‘Vok!’ vloek hy
hardop en storm na die voordeur. Hy pluk dit oop en gewaar ‘n donker
gedaante snel vir die muur. Die gedaante misgis homself met die terrein
en val met ‘n harde slag op die grond.
Dekker volg en is binne oomblikke by die indringer, wat pynlik stadig
regop kom. ‘Jou bliksem!’ sê Dekker half vir homself soos hy ‘n vuishou
in die donkerte probeer land. Sy vuis skram van iets hards af, moontlik
‘n voorkop. Dekker slaan weer en land op iets sagters, wat nattig meegee.
‘n Dof kreet getuig dat hy sy merk gevind het. Voordat hy nog ‘n hou kan
plant, duik die gedaante met sy skouer in hom in en hy verloor sy balans.
Ag nee. Sy simpel pantoffels gly op die gruis en hy land op sy rug. Die
gedaante land bo-op hom, en Dekker beskou vir kort oomblikke ‘n geëtsde,
bloederige en sweterige gesig wat wild na hom staar. Die vuil bierreuk
is oorweldigend. Dan glimlag die gesig en plant ‘n paar harde houe in sy
maag, spring op en verdwyn in die duister.
Dekker is wind-uit. Swaar staan hy op en probeer om sy asem terug te kry.
Al waaraan hy kan dink is dat sy duur kamera nou weg is. Verbaas dwaal
sy oë dan na die verweerde hef wat uit sy maag groei, en hy voel iets
warms teen sy bene afloop. G’n wonder hy is wind-uit nie! Dekker loop
stadig en moeilik terug teen die paadjie op; na die voordeur. Hy het
iewers gelees dat ‘n mens nie die mes moet uittrek nie, want dan bloei
dit net erger. Hy kyk weer na die geniepsige ding in sy maag. Dit raak
nou seer. Hy leun teen ‘n pilaar en hyg na asem, en die koue naglug
omhels hom ongevraagd. Hy voel duiselig en naar. Hy gaan sit. Wat help
dit alles? Verwag hy regtig dat ‘n ambulans gaan kom voor dit te laat
is? Met ‘n kreun probeer hy gemakliker raak teen die yskoue pilaar. Dat
dit so moet eindig, so minimalisties.
Hy dink aan al die dinge wat hy nog wou vermag het, en al die dinge wat
hy onvoltooid gelos het. Hy dink aan alles wat hy anders kon gedoen het.
Snaaks dat dit nou alles so kristalhelder is, soos sy tyd krimp in ‘n
skoendosie in. Sy mond raak droog en hy begin onwillekeurig sidder. Hy
dink aan sy ex-vrou, en hoe hy haar nog liefhet. Weet sy dit? Sal sy dit
ooit weet? Sal sy hom onthou soos hy was of hoe sy dink hy nou is? Sal
sy hom treur? Gaan enigiemand hom mis?
Hy probeer kyk na die sekelmaan, maar hy sukkel om te fokus. Hy soek net
een beeld wat hy kan saamvat, dêmmit! Dan beweeg iets in die buitewyke
van sy visie, en hy word weer bewus van die vuil bierreuk. ‘Nee! Vokkof
uit my laaste oomblikke!’ wil hy skree, maar sy mond is te droog. Hy
sien ‘n dowwe figuur na hom toe loop, oor hom buk, en dan met ‘n pynlike
ruk iets uit sy maag pluk. Die dowwe figuur loop dan verby hom, na die
oop, uitlokkende voordeur. Dekker swets in sy gedagtes. ‘So jy gaan my
nou in elk geval leeg besteel’ , dink hy verslae. Hy voel warm en koud
terselfdertyd en soos hy uit ‘n sittende posisie omval, is dit orals om
hom taai en nat.
Dit is dof.
Die pyn is weg.
Asem in.
Die pyn is terug.
Dit is anders.
Asem uit.
Wit.
Koud.
Swart.
© Etienne A. Marais – 17 Junie 2005 |