|
DIE HERFSBLARE DIE VAL OP DIE GROND
Gans was vanoggend laat gewees. Iets wat nog nooit gebeur het sover hy
kan onthou nie. Hy probeer uitpluis wat verkeerd geloop het, maar hoe
meer hy daaroor dink, hoe meer pyn sy kop. Gewoonlik is Gans douvoordag
wakker, met kaal voete oor die koue sementvloer na die gekraakte wasbak
om oggendsidderwater oor sy gesig en lyf te spat. Dit is op sulke
oomblikke wat hy op sy lewendigste voel; wanneer hy ‘n klariteit van die
siel beleef; ‘n reinheid van gedagte wat dan soos ‘n lekkende band in
die dag se warmte afblaas.
Maar hierdie herfsoggend was anders. Gans leun op sy verweerde hark en
probeer dit uitpluis. Iets wat sy liggaam op staatmaak, het nie gebeur
nie. Dit was reeds seweuur met die son wat hoog sit toe hy verskrik
verdwaas uit ‘n diep slomer uit die bed gerol het. Hy het nie eers die
wasbak besoek nie en slegs sy oorpak aangepluk en by die deur
uitgestrompel. Dit was ‘n uur gelede. Nou staar hy misnoegd na die
herfsblare wat net val en val. Hy dink weer aan Barney die boelie wat
hom sy naam gegee het, lank gelede. ‘n Naam wat vol humor is, vir ander
mense. Barney het gesê dat hy lag soos ‘n gans, en van daardie dag het
vriend en vyand hom dit genoem. Hy het dit maar aanvaar al het dit
seergemaak, sonder om ooit die selfvertroue te vind om vir mense te sê
dat sy naam Jopie is, dêmmit!
Hy skrik wanneer ‘n wind opsteek en met ‘n geheime geritsel herfsblare
orals om hom strooi. Hy verbeel homself dat die barre opsigter, Meneer
Oelofse, om die hoek gestorm gaan kom en hom weer op sy rowwe manier
gaan uittrap. Meneer Oelofse dink dat hy wat Gans is, stadig is. Stadig
van brein en wil. Hy laat Gans altyd goed weet dat hierdie joppie net
aan hom gegee is as ‘n guns, omdat hy vertraagd is. Maar Gans weet ‘n
paar dingetjies van Meneer Oelofse ook. Meneer Oelofse loer deur
vensters met ‘n hand wat in sy broek wikkel. Dit is snaaks en die eerste
keer toe Gans dit waargeneem het, het hy hardop gelag. Dit het Meneer
Oelofse bloedrooi van woede gemaak en daardie dag het hy ‘n paar stampe
uitgedeel. Daarna het Gans hom nog ‘n paar keer gesien, maar het nie
weer gelag nie, net gewonder.
Al die areas wat hy alreeds skoon gehark het is nou weer bedek met
rooibruin herfsblare. Soos hy met ‘n steun sy hark optel om verder die
blare op onbenullige hopies te verplaas, word Gans bewus van die stilte.
Dis net die wind en die blare. Geen voëlgesang, geen mensstemme. Hy
besef opeens dat dit die stilte was wat hom laat verslaap het. Onseker
hark hy verder. Hy voel soos die keer toe hy verdwaal het op pad na ‘n
dokter toe; alleen en verlate.
Hy stop. Die wind het bytend geword en daar is ‘n vreemde skynsel in die
bewolkte lug.
Gans sidder en plaas sy hark versigtig teen ‘n muur soos herfsblare deur
‘n dwarswind in die lug gegooi word. Orals dwarrel blare soos rooibruin
demone in ‘n oseaan van droë ritseling. Die blare fluister onbekende
geheime vir hom, waarsku hom. Iets kom! Iets kom nader! Vlug!
Gans gil terug: waarheen? Wat kom nader? Die blare se fluister het in ‘n
crescendo van vrees verander. Hardloop! Hardloop weg!
Gans begin hardloop, deur leë strate, verby verlate wonings wat hom stil
beskou, om motors wat op plekke sommer in die middel van die pad staan,
sonder om te weet waarheen of waarom. Hy hardloop nog steeds as die
gerammel van ‘n duisend dromme sy ore toeslaan en ‘n rukwind hom in die
lug gooi en teen ‘n verkrummelende heining smyt.
Hy sou nooit weet wat die blare probeer vertel het nie. Van die
verdoemende nuus wat laataand versprei is. Van vlugtende figure in die
nag, nie een wat aan hom gedink het nie. Van die katastrofe wat van die
hemele nou op sy kop neerdaal nie.
Gans was nog altyd ‘n alleenloper.
© Etienne A. Marais – 9 Maart 2006 |