|
ENIGIEMAND?
Vandag is 'n kille dag iewers in die jaar 2013. Dit mag vreemd klink,
maar ek het op een-of-ander manier geen idee wat die datum is nie. Dit
moet nou al lente se kant toe staan. Ek het myself vir 'n geruime
tydperk reeds in afsondering geplaas – ek dink vir 'n hele paar maande
al. Dit was die enigste manier hoe ek myself buite gevaar kon stel.
Sekere mense sal seker my wegkruipplek 'n varkhok noem, maar dit sal 'n
belediging wees vir varke. Dit was 'n afstootlike pandok; 'n groeiende
monument opgedra aan alle fases van die verteringsstelsel; 'n plek waar
wat die maag verwerp het, vrylik gemeng was met wat die maag alreeds
aanvaar en verwerk het.
Die verwerpingsproses gebeur meer dikwel hedendaags, want dit raak
moeilik om die higiene-vlakke op enige aanvaarbare standaard te hou. Ek
het koors en ek juk verskriklik. Ek het velsere wat baie sleg ruik, maar
dan - die reuk kan afkomstig wees van my kopvel, my tande, my voete,
enige plek. Dit is moeilik om te bepaal. Ten minste is ek veilig van
hulle. Hulle kan my nie kry solank as wat ek hulle uitgesluit hou nie.
En solank as wat ek hulle uitsluit mag hulle uiteindelik van my vergeet
- en net…weggaan, terug na die duiwelsgat wat hulle geboorte gegee het.
Hoekom skryf ek hierdie kak? Hoekom verduidelik ek myself? Dink ek dat
enigiemand dit ooit sal lees? Partykeer plaas my ingebore optimisme my
in liederlike gevaar. Dit verroorsaak dat ek myself in situasies plaas
wat sleg vir my gesondheid kan wees. Baie sleg. Om te oorleef was dit
die beste om oorwegend negatief te wees. Ten spyte daarvan sal ek
hierdie skryf vir wieookal daarbuite is; vir enigiemand wat hierdie kan
beskou met 'n menslike oog en kan verstaan met 'n menslike brein. Dis so
'n menslike trek om 'n nalatenis te los; 'n skrapse geskiedenis van 'n
netelige paadjie wat gevolg was.
Vanoggend was 'n katastrofe gewees. Ek was op soek vir iets om te lees
of miskien 'n bietjie pornografie – ek kan nie onthou vir wat nie – toe
ek trap in iets wat baie nat en ongeurig was. Ek kon dit nie eers uitken
nie. Al wat my gedagtes oorheers het op daardie punt was om te ontsnap
van hierdie stinkende hool. Ek het nie helder gedink nie en voor ek my
kon kry was ek alreeds buite, met die vars lug wat oor my spoel en die
uitsonderlike (lente?) son wat skyn op my gesig. Ek het daar gestaan vir
'n hele ruk terwyl 'n gevoel binne my gegroei het soos 'n parasiet.Dit
was hoop. Miskien was hulle weg! Miskien kan ek uiteindelik verlos wees
van my gevangenisskap!
Dit was totdat ek voetstappe hoor en angsbevange een van hulle gewaar
wat doodluiters verby die huis waggel. Onwillekeuriglik het ek na my
asem gesnak, wat veroorsaak het dat die gedrog na my toe draai en reguit
na my staar met siellose oe. Dit het sy kop sywaarts gekeer en probeer
om soos 'n mens te glimlag (nogal skrikwekkend). Ek kon nog nooit
uitpluis hoekom hulle soos ons probeer wees het nie. Wat was die doel
daarvan? Hulle was hopeloos daarmee, in elk geval. Het hulle regtig
gedink dat mense vir een oomblik geflous sou gewees het? Die gedierte
het op daardie punt begin beweeg na my toe. Dit het 'n keelvolle,
onmenslike klank gemaak in die proses.
Ek was so versteen van vrees dat die gedrog net 'n paar meter van my was
voorat ek gereageer het. Ek het 'n gebreekte potplant opgetel en na die
ding gegooi. Lomp het dit probeer om die vlieende pot te vermy, maar
tevergeefs. Die pot het die kreatuur skrams teen die kop getref, wat dit
laat struikel het en 'n kreet van verbaasde woede laat uiter het. Ek het
daardie oomblik gebruik om terug te vlug binne my onwelriekende fort en
die deur verbrouereerd te sluit. Die gogga-man het die deur beslaan en
sy onaardse geluide geuiter vir 'n taamlike rukkie daarna. Uiteindelik
het dit stil geword en ek het verseker geweet dit is om versterkings te
gaan roep.
Ek was uitgemergel. Ek het teen 'n smerige muur inmekaar gesak en begin
huil. Al my harde werk was ongedaan gemaak in een kort, rampspoedige
draai van gebeure. Al die maande van eensaamheid en vullis was
tevergeefs! Ek het myself gevloek. Ek het my voete gestamp.Ek het my
olierige hare uit my kop getrek. Ek het selfs my gewrig gebyt totdat dit
gebloei het. Die enigste sekerheid wat vir my oor was, was dat hulle sal
terugkom.
Maar ek sal nie gewilliglik in daardie donker nag inloop nie. Ek het 'n
besemstok vlymskerp gemaak en ek sal my wraak neem voor hulle my betas.
Ek skryf hierdie feitlike weergawe terwyl die stilte my bekruip en my
vasberadenheid verteer.
Ek is nou verlore - maar jy, liewe leser, …liewe mens, mag eendag
waardeer wat ek moes verduur en so 'n bietjie meegevoel vir my he.
Vaarwel. © Etienne A. Marais – 22
Augustus 2006 |