|
AVONTUUR IN A-MINEUR
Dit was bedompig genoeg om 'n aardvark te laat gaap. Daar was wilde
krete van die apies in die bome hoog bo ons en 'n verskeidenheid van
gevlerkte goggas was besig om my sweet en my bloed te geniet. 'n
Kopbeen-vergruisende hoofpyn het bygedra tot die gevoel dat ek nou net
binne satan se verwelkomingsarea gestrompel het. Al vloekende het ek
wraaksugtig gekap aan die digte plantegroei met Thabo se tuisgemaakte
panga. Dit was so stomp soos my ouma se valstande. Sweet het
teen my gesig, my nek, my rug, en binne-in ongemaklike plekkies afgestroom.
Ek draai om en kyk na Thabo, wat my dopgehou het met 'n onderdrukte
glimlag op sy growwe lippe. Hy was 'n glansende, swart reus wat ten
minste ses duim bo my uitgetoring het, maar vir daardie oomblik het sy
grootte my nie beïndruk nie. Ek gee hom 'n giftige kyk.
'So jy dink hierdie is snaaks?'
Sy glimlag is geblus met die woede in my stem. Hy maak sy mond oop asof
hy wil antwoord, maar maak dit dan wysiglik weer toe. Rooi
ongenaakbaarheid brand blase op my beterwete. Ek kon myself skop omdat
ek hierdie uittog opgedroom het. Soekende na die ruïnes van 'n verlore
beskawing? Romantiese idioot! Die onmoontlike situasie manifisteer in
die persoon van Thabo. Thabo, wat veronderstel was om die omgewing te
ken. Thabo, wat kamstig die beste gids verkrygbaar is.
'Hier is ek, in die middel van 'n muskiet-besmette oerwoud, in 'n
desperate poging om ons hier uit te kry, terwyl jy tyd vind om te staan
en grynslag? Hoekom deel jy nie jou grappie met my ook nie? Dan kan ons
albei laggende vrek in hierde goddelose hel!', gil ek op hom. Ek gooi
die panga met weersin eenkant toe.
'Meneer Sanders, ek dink jy voel miskien so 'n bietjie moeg. Miskien
moet ons rus,' sê hy kalmerend.
Hy haal sy reusagtige drasak af en laat val dit op die grond.
'O, jy is so skerp, my vriend. Jy is reg; Ek voel taamlik kak. Te danke
aan my luigat, breindood gids, dis hoekom,' antwoord ek smalend.
Ek val neer tussen geknoopte ruigplante en probeer om die seergemaakte
uitdrukking op sy gesig te vermy. Hy huiwer, en hurk dan stilweg by die
drasak. Die apies skreeu nog onophoudend in die bome, wat my laat voel
asof iemand 'n lem met draaibewegings in my skedel inwerk.
'Vok daai apies!'
Ek staar bloeddorstiglik na die bome en probeer hulle met my oë verslind. Thabo staar ongemaklik opwaarts.
'Ons boskinders is ontsteld,' sê hy stilweg. Ek draai geïrriteerd na hom.
'Is jy verwant aan hulle, of iets? Ek kan nogal glo dat jou oupa 'n aap
was,' skel ek terwyl ek die laaste druppels van my waterbottel dreineer.
Dit is dan wat hy sy gesig
na my draai, en ek die dood in sy oë sien. Sy hand reik uit en vind die
verwerpte panga, en hy bespring my soos 'n gewonde luiperd. Hy was op my
voordat ek die lomp 38.-Special uit die gespe kon trek. Instinktiewelik
gooi ek my arm op en rol om, terwyl ek naarstiglik probeer om my
rewolwer los te kry. Die panga vlieg verby my oor en land met 'n dowwe
klap in iets agter my. 'n Worsteling agter my, laat my omkyk. Die panga
was gesink in die plat kop van 'n enorme kobra. Thabo toring oor dit,
besig om die finale doodslag te lewer. Skamerig gly my hand van die
rewolwer af en ek staar met afgryse na die worstelende, vrekkende slang.
Thabo wys opwaarts met 'n bebloede hand.
'Dis hoekom ons boskinders onsteld was.'
'E...Ek sien. D-dankie my vriend.'
Hy kyk na my met 'n miljoen-jaar staar.
'En nee, Meneer Sanders, ek is nie verwant nie.' © Etienne A. Marais
– 1993 |